Ek lees elke boodskap, elke briefie en elke woordjie wat die afgelope weke…
Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Volg asb ons blad Bar-B-Que Steakhouse Parow
Ek lees elke boodskap, elke briefie en elke woordjie wat die afgelope weke oor my pad gekom het. Elkeen het my hart aangeraak. Soveel omgee, soveel liefde, soveel genade. En tog besef ek nederig dat ek dit alles nie verdien nie.
Dankie vir elke liewe boodskap, elke duimpie omhoog, elke biddende handjie, elke traan-gesiggie en elke teken van meegevoel.
Maar bo alles, dankie vir elke gebed wat in stilte opgegaan het na die hemel. Julle gebede het my gedra op dae toe my voete swaar was en my hart stil geword het. Ek weet vandag dat ek omring word deur duisende engel-mense. Mense met sagte harte en oop hande. Mense wat lig bring wanneer die nag donker voel. Julle elkeen is vir my 'n kosbare geskenk.
Maar vanaand wil ek vir 'n oomblik net weer daardie jong klong wees. Die een wat stil op die rantjie van sy herinneringe sit en terugkyk na sy gisters. Gisters van lank gelede, toe die son nog stadig oor die koppies van Namakwaland gekruip het, toe die wind stories deur die kokerbome gefluister het, en toe die wêreld nog eenvoudig was. Ek wil deur die stofpaaie van onthou stap, na die voetspore van 'n jong seun wat nooit kon weet hoe kosbaar die reis sou word nie, soos nou.
Dis daar, tussen die vergeelde herinneringe en die sagte lig van vele gisters gelede, waar hierdie stuk van my hart vanaand by julle kom sit.
Ek is nie perfek nie. Ek was nog nooit nie, en ek het ook nooit probeer voorgee dat ek is nie.
Soos enige mens wat lank genoeg onder die Namakwalandse son geloop het, het ek ook my kneusplekke opgedoen. Ek het al verkeerd gedraai waar ek reguit moes aangestap het. Ek het paaie gevat wat my verder van myself af geneem het as wat ek ooit bedoel het. Foute gemaak wat soos klitsgras aan my hakke bly vasklou het. Maar , elke mens dra mos sy eie sak klippe.
Met die jare het ek geleer dat elke val sy les bring. Elke litteken raak later 'n storie. En elke storm wat oor jou trek, laat iets agter wat jou sterker maak as voorheen.
My naam is Marius.
Net Marius.
Nie iemand met groot aansien of blink dinge om mee te spog nie. Net 'n gewone Namakwalandse seun wat oud geword het tussen die stof, die wind, die seer, die onbekende en die herinneringe.
Van kleins af het ek geleer dat aardse goed verbygaan. 'n Man kan die mooiste motor ry, die duurste horlosie dra of sy huis volmaak met dinge wat blink, maar dit verander nie wie hy is nie. Dit verander nie die grond waaruit sy wortels groei nie.
Jy kan jou voorkoms verander. Maar soos die ou mense altyd gesê het: "Die waarheid lê nie lank onder die sand nie."
Later of vroeër breek dit deur. Soos 'n twa-gras ná die eerste reën.
Die kleur vervaag. Die maskers val. En eendag staan jy alleen voor die spieël met niemand om te beïndruk nie. Net jy. Net die mens wat terugkyk. Soos vandag.
Ek sal seker altyd iets van die wegloopkind in my dra.
Die een wat anders gevoel het. Die rebel. Die alleenloper.
Die ou wat dikwels sonder kaart of kompas deur die lewe stap en hoop hy vind iewers weer die pad, maar ná jare van worstel, treur en die mors van tyd het daar uiteindelik 'n dag gekom waar ek moes stilraak. Regtig stilraak. Ek moes terugkyk. Verantwoordelikheid vat vir my eie keuses., maar veral met die man wat ek self geword het vrede maak. En nou moet ek weer aanstap. Nie omdat ek skielik beter geword het nie. Nie omdat ek al die antwoorde gevind het nie, maar omdat ek besluit het die pad voor my is belangriker as die stofspore agter my.
Die lesse van gister loop nou saam met my. Die foute van ouds ook. Hulle stap nie meer voor my nie. Hulle stap agter my.
En elke dag probeer ek net om die Smal paadjie 'n bietjie beter te volg as die dag tevore.
Tog voel dit partykeer of ek nog baie het om te leer.
Soveel dat my gedagtes dikwels terugdwaal. Ver terug.
Terug na waar alles begin het.
Terug na my eerste onthoue.
Na kinderdae wat nou soos ou foto's in die son verbleik het.
Terug na die plek waar die eerste vrae gevra is.
Waar die eerste trane geval het.
Waar die eerste foute gemaak is.
Ver terug. Na daardie klein dorpie in Namakwaland.
Nababeep.
Na die stofpaaie en die oliepad wat tussen die bloekombome deur kronkel.
Na die windpomp wat stadig sing in die aandwind daar by ou-Nababeep
Na die reuk van skaapmis, vars koffie en warm grond ná 'n skaars reëntjie.
Na my ma se stoep.
Daardie bekende stoep waar die son saans stadig oor die koppies weggegly het en die skaduwees lank oor die werf getrek het.
Daar waar lag en trane hul plek gehad het.
Daar waar my verhaal begin het.
Daar waar die wind van Namakwaland vir die eerste keer oor my gesig gewaai het.
Daar waar die ware Marius sy oë oopgemaak het vir hierdie groot wêreld.
En miskien, as ek mooi luister wanneer die aandwind deur die bloekoms fluister, hoor ek hom vandag nog. Daardie klein seuntjie van Nababeep.
Wat lank voor al die foute, al die pyn en al die omdraaipaaie net eenvoudig geglo het dat die wêreld 'n mooi plek kan wees.
Dankie vir die omgee en liefde vir hierdie Marius, die een met foute.
Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 8 Oktober 2026. Lees dit op Facebook.
Briewe aan die redakteur
Wat lesers op Facebook gesê het
Sterkte Marius en ook mevrou Dankie vir jou stofpad stories In elkeen is daar n lewensles vir elkeen wat dit lees Ons hou aan bid en ons stap saam met julle op die stofpad 🙏🙏
Daar is 207 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.