Uitgawe van Saterdag 17 Oktober 2026Parow

Die Stofpadkoerant

Saterdag 17 Oktober 2026Terug na die voorblad

Donderdag by Cure Hospitaal lê nog vars in my geheue, die vriendelikheid, die…

Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Foto by die storie

Donderdag by Cure Hospitaal lê nog vars in my geheue, die vriendelikheid, die goedheid, die liefde. Ons, die pasiënte wat stil sit en wonder en dink en bid. Wat praat en glimlag en brei en op selfone sit en praat met familie en vriende, en toe sien ek haar, die dogter, alleen. Vanaf Donderdagoggend wonder ek baie oor haar, en nou onder die laaste blad van die Stofpadkoerant sê mense hulle wonder ook, en ek skryf nou ʼn brief by die laaste koerant, hierdie een net vir haar, indien sy dit sien, weet ons is lief vir jou, ons bid vir jou, jy is deel van hierdie Stofpadkoerant:

Aan die dogter. Alleen.

So jonk. So stil. So verskriklik alleen in ’n kamer vol mense. Ek ken nie eers jou naam nie. Ek weet nie of jy ’n ma het wat nou êrens sit en wag nie. Wat ʼn nat sakdoekie opfrommel en weer gelyk trek oor haar been nie.

Of ’n pa. Of ’n kêrel, jy’s nog te jonk vir ʼn man. Of ’n vriendin wat jou hand sou wou vashou. Ek weet niks. Net dat jy hier is… en dat die trane loop.

Jou skouers was opgetrek tot by jou ore, asof jy probeer om in jou eie lyf weg te kruip. Asof jy hoop niemand sien jou nie. Maar ek het jou gesien.

En die trane… Hulle loop half-ongevraag, half-onstuitbaar oor jou wange. Nie die harde, soort wat aandag soek nie. Nee. Die stil soort. Die gevaarlike soort.

Die soort wat van so diep af kom dat dit nie eers ’n geluid maak nie.

Net nat strepe wat glinster onder die hospitaal ligte.

Trane wat skree sonder geluid:

“Ek is bang…Ek is só bang…en ek weet nie of ek sterk genoeg is nie…

en ek is alleen.”

My keel het toegetrek. My eie oë het gebrand. Ek wens ek kon opstaan. Oorstap. Sonder om te vra langs jou gaan sit.

Die rugkant van my ou hand aanbied om daardie trane een vir een af te vee.

Ek wens ek kon sê: “Kom hier, my kind. Ek ken nie jou naam nie,

maar jy hoef nie alleen bang te wees nie.”

Maar ek sit net stil. Magteloos. Want jy is ’n vreemdeling. En ek is ’n vreemdeling.

Soms is die ruimte tussen twee bang mense groter as wat ’n mens dink.

Tog, in my hart, waar niemand hoor nie, fluister ek oor en oor:

“Ek verstaan, my kind. Ek is ook bang. Ek is só bang dat ek sukkel om asem te haal.

Ek ken jou nie…maar vandag is jy nie alleen nie.”

’n Uur later lê ons langs mekaar in die teater se wagkamer. Jy op jou bed.

Ek op myne. Die wiele amper teen mekaar. Twee vreemdelinge.

Twee name wat ons nie ken nie. Net die vrees wat ons albei ken.

Ek leun oor. My stem is sag, amper net ’n asem, want ek is bang my eie stem sal breek. “Alles gaan reg wees, my kind…wees rustig. Jy is nie alleen nie.” Het ek gesê.

Jy het jou kop stadig na my gedraai. Jou oë nog nat en rooi, maar daar was iets anders ook…’n flikkering. ’n Klein, teer vonkie van dankbaarheid.

Jy het niks gesê nie, niks. Jy hoef niks te sê nie.

Toe hulle haar wegrol teater toe, gebeur dit. Sy draai haar kop nog een keer.

En toe… glimlag sy. Breed. Dapper. Teen die trane en die onbekende en die alleenheid in. En sy steek haar duim in die lug.

Daardie duim… dit was nie net ’n gebaar nie. Dit was ’n oorwinning.

’n Klein, bewende, dapper vlaggie van ’n meisie wie se naam ek nooit sal ken nie.

’n vlaggie wat sê: “Ek gaan veg.”

My eie oë het vol gehardloop. Ek het my hande saamgesit soos in gebed, vingers styf inmekaar.

Ek stuur elke gebed, elke duim, elke bietjie moed wat ek het saam met haar die deure in.

Ek ken nie haar naam nie. Ek weet nie of iemand vir haar wag nie. Maar ek sal haar nooit vergeet nie.

Later kom haal hulle my.

My beurt is my beurt.

En op die agtergrond sing Richard van der Westhuizen "Lewe, jou lewe, my Engeltjiekind"

Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 17 Oktober 2026. Lees dit op Facebook.

Briewe aan die redakteur

Wat lesers op Facebook gesê het

Marius - Kontak die dokter en vra wie die pasient was - of gee die brief vd dokter en vra hom om dit vir haar te gee. Dit sal n onvergeetlike ondervinding vir haar wees, en een wat n mens nie miet laat verby gaan nie. Stap die hele pad.😊

Rob R.

Rob Reinecke Dis n puik idee. Dalk is dit net wat daardie kind nodig het.

Amelia C.

Daar is 82 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.