Uitgawe van Maandag 19 Oktober 2026Parow

Die Stofpadkoerant

Maandag 19 Oktober 2026Terug na die voorblad
In memoriam

'n Groot klip het gister losgebreek

Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Foto by die storie

Die Stofpadkoerant het vandag n swart blad bygekry:

Kaapstad en Parow sal nooit weer heeltemal dieselfde wees nie. Een van die groot bome het geval. Daardie soort boom wat skadu gee sonder om geraas te maak, wat sterk staan in winterstorms en somerhitte, en waarvan mens eers die grootte besef wanneer die stilte van sy afwesigheid oor alles kom lê. Die wêreld voel vandag stiller. Die koebaai sê swaarder. Die trane loop sommer ongevraagd oor my wange. Daardie laaste oproep, daardie laaste kuier, daardie laaste woord wat nog gesê kon word, het nou stil geword. Te laat.

Hier by BBQ Steakhouse hang daar vandag minder lag in die lug.

Trek maar 'n sitding nader. 'n Klip. 'n Stomp. En raak vir 'n wyle stil. 'n Goeie man het vertrek. Maar die vlamme van sy vuur sal nog lank warmte afgee aan dié wat die voorreg gehad het om hom te ken. Pierrie Franken van Blue Flame se ashopies hier op aarde is maar net ashopies. Die wind sal dit dalk wegwaai, deurmekaar waai oor vlaktes en strate, maar die onthouvoetpad wat hy deur ons harte getrap het, sal nooit wegwaai nie. Dit sal daar bly. In die stof van herinneringe. In die lag van ou stories. In die stemme van mense wat sy naam nog lank met liefde sal uitspreek.

Hy was 'n groot man. Groot vir sy familie. Groot vir sy vriende. Groot vir sy kinders. Groot vir sy vrou. En, sonder dat hy dit dalk ooit regtig geweet het, ook groot vir my.

Kom ons steek vanaand 'n vuur aan. Kom sit nader. Kyk diep in die kole. Luister hoe die hout kraak en die blouvlam dans. Want daar, tussen die vonke en die hitte, leef die onthou van 'n uitsonderlike man voort. 'n Pa vir wie sy kinders alles was. 'n Eggenoot wat sy vrou liefgehad het. 'n Oupa, broer, skoonpa, oom en vriend wat sy spore diep getrap het.

Vandag is die kole nog warm. Miskien té warm vir die mense wat die naaste aan hom gestaan het. Maar eendag, soos die pyn sagter word, sal hulle weer rondom hierdie vuur kan sit en glimlag oor die mooi dae. Dan sal die stories weer kom. Die kuiers. Die grappies. Die hand wat altyd gehelp het. Die hart wat altyd oop was.

Want die lewe was vir ou Pierrie 'n lied. Hy was dun gesaai. Altyd reg vir 'n kuier. Altyd reg vir 'n vriend. Altyd gereed om 'n hand uit te steek.

Hy het baie vriende gehad, maar die wat hom waarlik geken het, weet vandag dat hulle nie net 'n vriend verloor het nie. Hulle het 'n stuk van hul eie lewe verloor. So 'n mens kom nie sommer weer verby nie.

Een van BBQ Steakhouse se eie mense.

Een van ons lekker vriende. Een van die goeies.

Dankie, Here, Man van Smarte, dat U die taal van trane verstaan. Dankie dat U weet hoe seer afskeid maak. Dankie dat U bloed steeds die wonde van baie gisters genees. Dankie vir U troos wanneer die stoele leeg staan en die stemme stil word. Dankie vir U helende hand op elke hart wat vandag swaar dra. En dankie vir die voorreg dat U Pierrie Franken vir so lank aan ons geleen het. Dankie vir 'n uitsonderlike pa. 'n Liefdevolle eggenoot. 'n Trotse oupa. 'n Getroue broer. 'n Geliefde oom. 'n Ware vriend.

Tot ons eendag weer langs die Groot Vuur bymekaar sal sit, ou Pierrie.

Rus sag

Marius, Christelle en al die personeel van die Bar-B-Que Steakhouse

Liefde en sterkte Sarina Franken

Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 19 Oktober 2026. Lees dit op Facebook.

Briewe aan die redakteur

Wat lesers op Facebook gesê het

Dankie Marius vir die uitsonderlike boodskap oor Pierrie. Elke woord en sin is so korrek. Ons sal hom mis. Rus in vrede my man vir 56 jaar.🤗😥

Sarina F.

Sterkte Buurvrou

Die redakteur antwoord

Daar is 60 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.