Die Stofpadkoerant se blad waai weer om
Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Gister het my Stofpadkoerant se voorblad weer verander. Hierdie klong se gesig ook. Vroeg, voordag, meld ek aan by die Breekplek hier in Parow. Die een Oepse-Daisy, die hardegat een, se eindtyd is in sig. In die parkeerplek staan ek eers stil. Buig my kop. Vra my Skepper mooi, groot asseblief, om vandag saam met my te stap. Dat die mense tog nie moet ruik hoe bang ek is nie.
En toe stap ek weer in 'n wêreld in waar omgee nog vanself gebeur, hier by Cure Dag Hospitaal. Waar vriendelikheid nie aangeleer word nie, maar sommer in mense se harte woon. Die noientjie by ontvangs knik haar kop, glimlag sag, en sommer net daar voel die knop in my maag kleiner.
Rondom my sit mense. Mense met stories. Mense met vrese. Mense wat nog nie weet wat hierdie dag vir hulle gaan bring nie. Die oom oorkant my. Die tannie langs my. Die jong man daar in die hoek. Die vrou met die nat oë. En weer buig ek stilweg my kop. "Here, wees vandag ook by hulle." En skielik gebeur iets besonders.
Mense wat mekaar nie ken nie begin gesels. Koppe knik. Glimlagte verskyn. Oomblikke van menswees breek deur die bang wees. Ek kyk na die dogter wat alleen sit. Die trane loop half-ongevraag oor haar wange. En ek wens ek kon die rugkant van my hand aanbied om dit weg te vee. "Ek verstaan, my kind," dink ek.
"Ek is ook bang."
'n Uur later lê ons langs mekaar in die teater se wagkamer. Sy op haar bed. Ek op myne. Ek leun oor. "Alles gaan reg wees my kind" wees rustig.
Toe hulle haar wegrol teater toe, glimlag sy breed en steek haar duim in die lug. Ek sit my hande saam soos in gebed. Net soos die duisende handjies en duimpies wat onder die boodskappe van die Stofpadkoerant verskyn wanneer iemand moed nodig het.
Later kom haal hulle my.
My beurt is my beurt.
Ek klim oor op die smal kooitjie. Die slaapdokter sit die naald in sonder dat ek dit eens voel. Hy ken sy werk. Alles word mooi verduidelik. Ek lê wakker. Praat met die mense om my. Net 'n doekie oor die oë sodat die skerp ligte nie pla nie.
Toe begin die werk.
'n Sny. 'n Ondersoek. Nog 'n sny. Weer kyk onder die vergrootglas. En toe.........die oproep.
Die patoloog.
Daardie paar oomblikke wat soos ure voel.
Toe hoor ek die woorde:
"Maak toe. Hy's skoon."
Die hardegat een het sy gat gesien.
Ek was seker baie naby daaraan dat hulle kon sien hoe bly hierdie klong werklik was.
Daar, tussen al die maskers, handskoene en ligte, buig ek weer my kop.
"Dankie Here.
Dankie."
Later, agter toe gordyne in my kamer, lê ek stil. Dink aan al die gisters wat nie so lank gelede nog vandag was nie. Dink aan die dag toe ek by N1 Hospitaal ingestap het.
Bang.
Kleiner as gewoonlik. En gesê het:
"Help my asseblief, Dokter. Ek is bang."
Dokter Dempers.
Ek en jy ken dieselfde son.
Die Namakwalandse son.
Daardie son wat tussen Nababeep se klippe terugkaats. Die son van kaalvoetdae. Van stofpaaie. Van klubswembaddens. Van onbesorgde jare toe ons gedink het die lewe sal vir altyd hou.
Dalk is dit juis daardie son wat gemaak het dat ek vroeg reeds bevriend moes raak met dermatoloë. Goeies, soos jy.
Dankie, Dokter. Dankie dat jou oog die kwaad raakgesien het voordat dit te laat was.
Dankie vir elke gesprek. Elke grappie. Elke vinnige afspraak wat oopgemaak is vir 'n bekommerde pasiënt, vir Marius.
Dankie dat jy nog 'n dokter is wat eers mens is. 'n Omgeemens. 'n Luistermens.
'n Dokter na wie bang mense kan stap, en weet hulle gaan gehoor word.
'n Mens kan baie dankies sê. Maar vandag sê ek nog een.
Dankie.
Toe stap ek een vloer hoër.
In die sitkamer van vriende.
Dr. JJK Engelbreght.
Sarah. Die noi met die lag in haar oë en die heerser van die kantoor.
Sarah, getroud met 'n Nababeeper, Jack Goslett. Net daar het die wêreld sommer kleiner gevoel. Bekender. Warmer.
Ek onthou die dag toe Jack in die teater was. Die dag toe jou hart 'n stukkende kruik was. Maar die glimlag het steeds daar gebly, al het bekommernis diep in jou oë gewoon.
Dankie vir jou lig. Dankie dat jy bloot jy is. Dankie vir al die hulp.
En dan jy, Dokter Engelbreght, die plastiese chirurg, jy wat opgefrommelde kardoessakke weer glyk maak. Jy wat soms beter sien as vergrootglase.
Jy wat saam met Dokter Dempers die gevaar raakgesien het nog voordat die patoloë dit bevestig het.
Jy wat rustigheid uitstuur. Sekerheid. Vertroue. Mense soos jy maak eers 'n mens se binneboom stil voordat jy aan sy wond werk.
Jy het die seer raakgesien. En jy het dit heelgemaak.
Gister. Toe die hardegat een finaal sy alie gesien het.
Dankie.
Uit my hart uit.
Dankie.
Eenkantaandvure lê wyd versprei oor hierdie klong se lewenspad. Ek het al aan die poorte gaan klop. Ek het al vele male kon terugstap. Nog 'n kans gekry.
Nog 'n sonsopkoms. Nog 'n stofpad. Nog 'n koppie koffie saam met mense vir wie ek lief is.
En mens leer.
As jy nie loop terwyl daar nog tyd is nie, gaan jy eendag op die bed lê en verlang na paaie wat jy nooit gevat het nie. Verlang na woorde wat jy nooit gesê het nie. Verlang na mense wat jy nooit vasgedruk het nie. Verlang na drome wat altyd vir môre gebêre was.
Vandag weet ek weer:
Elke sonsopkoms is geleende tyd. Elke vriend is genade. Elke nuwe dag is 'n geskenk.
En die Stofpadkoerant se blad waai weer om.
Hierdie keer stadig. Saggies.
Soos 'n Namakwalandse aandwind wat deur die droë gras fluister nadat die dag se hitte gaan lê het, die son wat so seer byt gaan slaap het.
Met dankbaarheid. Met nederigheid. Met hoop en met vrede.
Baie vrede.
“Nog een bladsy van hierdie klong se Stofpadkoerant.
En wat 'n voorreg was dit om hom te kon omblaai.
Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 16 Oktober 2026. Lees dit op Facebook.
Briewe aan die redakteur
Wat lesers op Facebook gesê het
Jy skryf so mooi vir my, asof woorde uit jou uit gly, lekker om te lees en deur jou woorde te sien en saam met jou te kan beleef. Die fel Karooson piets ons as ons sorgvry leef en dan sien ons die skade in ons herfsjare. Dankbaar saam met jou vir goeie dermatoloë en plastiese chirurge wat die “hardegat kwaad” van ver af uitken en weet hoe om hom te baklei. Voorspoed met die herstel. Daar is nog baie blaaie in jou stofpadkoerant wat geskryf en omgeblaai gaan word.
Daar is 162 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.