Uitgawe van Donderdag 19 November 2026Parow

Die Stofpadkoerant

Donderdag 19 November 2026Terug na die voorblad

Die aand toe my pa en ma begrawe is

Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Foto by die storie

Die Stofpadkoerant uit die hart van Nababeep Indien julle dit geniet volg asseblief ons blad Bar-B-Que Steakhouse Parow

Die mense het huis toe gegaan. Die laaste motors se stof het gaan lê. Die stemme wat die hele dag om my gedraai het, het stil geword.

Ek wou nie tussen mense wees nie. Ek wou nie trooswoorde hoor nie. Ek wou nie hoor dat tyd alles genees nie. Want daar is wonde wat nie deur tyd genees word nie. Daar is wonde wat eenvoudig deel van jou word. Ek het gery na my komvandaan, alleen. Ek het gebeurstap tot by Nababeepklip net buite Nababeep waar ek as kind eendag saam met my pa gesit het. Die mevrou het ek by vrinne in Springbok gelos, sou môreoggend haar weer kom optel. Hierdie stap was net vir my, my lappieskombers en die tiemaas (Stroopblik waarin jy koffie kan maak en drink.)

Die son was reeds weg toe ek by die boom onder die klip kom. Vêr oor die dorp het die laaste lig soos goud tussen die huise gelê.

Ek het teen die klip gaan sit. Om my het die stilte stadig dik geword. Dis 'n stilte wat net Namakwaland ken, stilte is nooit stil nie, êrens vlieg ʼn vlêrmuis, daar koer ʼn duif hier agter roep ʼn Naguiltjie sy maat. Nie die stilte van afwesigheid nie. Die stilte van teenwoordigheid. 'n Stilte waarin jy die aarde kan hoor asemhaal. 'n Stilte waarin jou eie hart harder begin praat.

Langs my het 'n ou boom gestaan. Ek het hom geken vandat ek 'n kind was. Die boom was skeef. Nie net effens skeef nie. Hy het amper soos 'n man gelyk wat sy hele lewe teen die wind moes beurstap, amper soos ek. Sy stam was krom. Sy takke het in vreemde rigtings gewys. Aan een kant was ou wonde waar takke lank gelede afgebreek het. Ek het na hom gekyk en vir die eerste keer gewonder hoeveel storms hy al gesien het. Hoeveel winters. Hoeveel droogtes. Hoeveel dae van versengende son. En tog het hy nog gestaan.

Terwyl ek daar sit, het my pa se woorde in my gedagtes teruggekom. "Die boom wat nooit wind ken nie, groei reguit. Maar die boom wat storms oorleef, groei sterk."

Ek het altyd gedink dit was net iets wat ou mense sê. Daardie aand het dit anders geklink. Daardie aand het dit soos waarheid geklink. Die donker het die wêreld stadig toegemaak. Een vir een het die sterre begin verskyn. Eers die helderste. Toe nog een. Toe honderde. Toe duisende. Uiteindelik was die hele hemel gevul met lig. Ek het my asem opgehou. Dit het gevoel of die hemel laer hang as gewoonlik. Laer as die berge. Laer as die wolke. Soveel nader. Toe onthou ek wat my pa altyd gesê het.

"Soms, in die donkerste nagte, lyk die hemel nader aan die aarde. Dan voel dit asof jou gebede makliker by die Skepper uitkom." As kind het ek daarvan gehou om dit te hoor. As man het ek begin twyfel. Maar daardie aand... Daardie aand het ek dit weer geglo. Nie omdat ek dit kon bewys nie. Nie omdat iemand dit aan my kon verduidelik nie. Maar omdat my hart dit geweet het.

Ek het na die sterre gekyk. En vir die eerste keer sedert my pa en ma se dood het ek begin praat, gebid. Nie hardop nie. Net binne-in myself.

"So Here ... ek verstaan nie." Die woorde het stadig gekom. "Ek verstaan nie waarom mense wat ons liefhet moet weggaan nie." So gelyk. Die wind het saggies deur die gras beweeg, koud. Ek het my Lappieskombers styf om my gevou. "Ek verstaan nie waarom sommige storms so lank duur nie." Geen antwoord het uit die hemel gekom nie. Geen stem het gepraat nie. Geen wonderwerk het gebeur nie. Net stilte. Maar dit was nie 'n leë stilte nie. Dit was die soort stilte wat jou vas hou wanneer jy nie meer krag het om jouself vas te hou nie. Ek het lank daar gesit en bid, gepraat uit my hart uit. Ure. Terwyl my gisters soos klein voëltjies deur my gedagtes gevlieg het.

Ek het my pa weer gesien. Hoe hy lag. Hoe hy sy hoed lig vir mense. Hoe sy growwe hand op my skouer rus. Hoe hy altyd gesê het:

"Die Here stuur nie altyd antwoorde nie, seun. Soms stuur Hy net genoeg lig vir die volgende tree."

Teen middernag het die lug nog donkerder geword. Maar vreemd genoeg het ek nie bang gevoel nie. Toe sien ek iets by die boom. Die wind het sy takke laat beweeg. Nie wild nie. Sag. Rustig. So asof die ou boom met die nag gesprek voer. Skielik het ek verstaan.

Daardie boom was nie sterk omdat hy nooit storms beleef het nie. Hy was sterk omdat hy hulle oorleef het. Elke kromming was 'n herinnering. Elke litteken was 'n oorwinning. Elke skewe draai in sy stam was die plek waar die wind eens probeer het om hom te breek. Maar nie daarin geslaag het nie.

En toe tref dit my, mense is ook so. Miskien is niemand van ons bedoel om heeltemal reguit deur die lewe te gaan nie. Miskien is die skewe dele van ons lewe nie bewys van mislukking nie. Miskien is dit bewys dat ons nog hier is. Dat ons lewe. Die weduwee wat steeds glimlag. Die mens wat sy kind verloor het maar nog liefhet. Die persoon wat deur siekte gegaan het maar steeds hoop. Die ou man wat alleen woon en nog elke dag die son sien opkom. Hulle almal is soos die boom. Gebuig. Gemerk. Soms geknak. Maar nie vernietig nie. Terwyl ek daaroor dink, het trane oor my wange begin rol. Nie trane van wanhoop nie. Trane van loslaat. Trane wat jare gewag het om te val.

Die nag het aangegaan. En iewers tussen die sterre en die stilte het iets binne my begin genees. Nie volkome nie. Nie skielik nie. Maar genoeg. Net genoeg. Soos die eerste reëndruppel op dor grond het my trane geval, ek het geleer huil, ek het geleer om te lewe.

Toe die eerste lig van dagbreek uiteindelik oor die berge kom, het die ou boom nog daar gestaan. Presies soos die vorige aand. Skeef. Verweer. Vol littekens. Maar lewendig.

Ek het opgestaan. My bene was styf van die koue. My hart was nog seer. My verlies was nie weg nie. My vrae was nie almal beantwoord nie. Maar iets was anders. Ek het geweet dat ek sou aangaan. Net soos die boom. Net soos die mense van Namakwaland. Net soos die blomme wat maande lank onder droë grond wag vir reën. Net soos die kokerbome wat deur eeue se wind gevorm is.

Ons word nie sterk omdat die lewe sag met ons werk nie. Ons word sterk omdat die lewe hard met ons werk en ons tog aanhou groei.

Toe ek terugloop dorp toe, het ek vir die laaste keer omgekyk. Die oggendson het die boom in goud gehul. En vir 'n oomblik het dit gelyk asof sy krom takke die hemel self aanraak. Toe het ek verstaan wat Nababeep my al die jare probeer leer het: Dat die donkerste nagte nie gestuur word om ons lig weg te neem nie. Hulle word gestuur sodat ons die sterre kan sien. Dat die grootste storms nie altyd kom om ons te breek nie. Soms kom hulle om ons wortels dieper te laat groei.

En dat daar tye in elke mens se lewe sal wees wanneer die hemel so naby voel dat jy skaars hoef te fluister. Want in daardie heilige stilte ontdek jy iets wat geen storm ooit kan wegwaai nie: Dat die Skepper nog altyd daar was. Dat Hy tussen die sterre gewaak het. Dat Hy saam met jou deur die nag gestap het.

En dat selfs die skeefste boom, wanneer die storm uiteindelik bedaar, steeds sy takke na die lig kan uitsteek. Want solank daar lewe is, is daar hoop.

En solank daar hoop is, sal die son weer oor jou opkom.

Groetnis Marius en die Mevrou

Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 19 November 2026. Lees dit op Facebook.

Briewe aan die redakteur

Wat lesers op Facebook gesê het

Alweer die kolletjie mooi op die "i" gesit! Sjoe, Marius, jy weet hoe om met ons taal om te gaan. Terwyl ek so hierdie gedeelte van jou lewensverhaal lees, vou my eie lewensverhaal met my gestremde seun stadig voor my oop. Ja, al die storms het vir my en Ian krom en skeef gemaak en sommige van ons takke afgeskeur, maar dit het ons sterk gemaak. Die Vader gee ons nog elke dag krag om aan te gaan. En jou skrywes vertel van 'n pad wat ons almal loop, elkeen net op 'n ander manier. Dankie hiervoor, maat. Namakwaland liefde.❤

Hilda C.

Daar is 37 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.