Uitgawe van Saterdag 14 November 2026Parow

Die Stofpadkoerant

Saterdag 14 November 2026Terug na die voorblad

Welkom in my diepste bang

Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Foto by die storie

In my eerste Stofpadkoerant het ek geskryf van my genoeg. Van daardie gevoel wanneer die lewe meer klippe as antwoorde op jou pad strooi. Van die sirkel wat om my lê.

Die Stofpadkoerant is eintlik soos daardie onsigbare sirkel wat styf om elke mens gevou is. Niemand anders kan hom sien nie. Niemand weet presies hoe groot of hoe klein hy is nie. Dis die sirkel waarbinne ons probeer veilig wees, waarbinne ons ons seer wegsteek, ons trane bêre en ons vrese stilletjies vasdruk.

Maar die lewe is soos 'n Namakwalandse ooste wind. Hy vra nie toestemming nie. Hy waai sommer deur die hekke wat ons so sorgvuldig toegemaak het. Hy lig die sinkplate van ons sekerhede op, hy strooi stof oor ons planne en hy kom sit soms ongemanierd naby aan ons harte.

Elkeen van ons dra sy eie Stofpadkoerant onder die arm.

Sommige mense se koerante is swaar van verlies. Ander s'n kreukel van bekommernis. Party dra stories van siekte, eensaamheid of afskeid. Sommige van ons kan nog daaroor praat. Ander raak stil. So stil soos 'n verlate veewagtershuisie langs 'n grondpad waar niemand meer stop nie. Baiekeer versier ons die voorblad met 'n glimlag. Ons lag saam, gesels saam en maak grappies om die vuur. Maar niemand sien die opskrifte binne-in die koerant nie. Niemand lees van die nagte wanneer slaap nie wil kom nie. Niemand lees van die trane wat op kussings val of van die vrae wat ons in die donker hemel instuur nie.

Soms gaan sit ons met ons Stofpadkoerant langs die lewe se stofpad. Dan kyk ons hoe ander mense verbygaan, hoe hulle lag en leef en vorentoe beweeg, terwyl ons vir 'n rukkie net probeer asemhaal.

En soms raak ons moeg. Moeg vir sterk wees. Moeg vir verstaan.

Moeg vir aanvaar.

Dan trek ons sommer met 'n bewende vinger 'n streep in die sand en roep uit die diepste plek in ons menswees:

KAN JY MY HOOR?

Miskien is dit al wat enige mens werklik wil weet.

Dat iemand hoor.

Dat iemand sien.

Dat iemand omgee.

Daarom wil ek vandag net dankie sê.

Dankie dat ek my Stofpadkoerant week na week voor julle mag neersit. Dankie dat ek nie my bang, my seer, my vrae en my stukkend alleen hoef te dra nie. Dankie dat julle die vergeelde bladsye van my hart met soveel deernis lees.

Julle omgee is soos reën op droë Namakwalandse grond. Dit laat dinge leef wat ek gedink het klaar dood is.

Dit laat my weer lag. Dit laat my weer droom. Dit laat my weer glo dat daar môre 'n son sal opkom, al voel vandag soms donker.

As die lewe dan weer sy genoeg-sirkel om my trek, weet ek ten minste hierdie een ding: Aan die ander kant van die stofpad stap daar mense wat saam met my dra. En daarvoor sal ek julle liefhê tot die laaste stofwolk agter die horison gaan lê.

Ek is oneindig lief vir julle.

Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 14 November 2026. Lees dit op Facebook.

Briewe aan die redakteur

Wat lesers op Facebook gesê het

Dis sal darem so lekker wees as Marius ook sy stofpadkoerant vir ons Kan voorlees met sy tipiese aksent soos ons hom ken. Hy weet van woorde so rangskik dat mens voel wat hy sê.

Lizelle L.

Daar is 93 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.