Uitgawe van Dinsdag 10 November 2026Parow

Die Stofpadkoerant

Dinsdag 10 November 2026Terug na die voorblad

Die Tannie wat Sout Gaan Leen het

Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Foto by die storie

Die Stofpadkoerant het vandag die voorreg om een van die twee mense wat my binneboom gesnoei het tot die Marius wat ek vandag is aan julle voor te stel. Sy is die een wat Marius met foute aanvaar het met al sy foute. Sy is die een wat die eindelike woordkunstenaar was, die een wat ure voor n Oliveti tikmasjien gesit het en gedigte en kortverhale vir die Jongspan en Kindervriend geskryf het. Sy sal altyd my Sus en Daan ma wees en die tannie,

My ma was nie 'n vrou van groot toesprake of ingewikkelde lewenslesse nie. Sy het haar wysheid soos die mense van Namakwaland gedra: stil, eenvoudig en sonder dat sy ooit daarmee gespog het. Deur die jaar het daar gereeld mense by ons huis opgedaag.

"Antie, het julle dalk 'n koppie suiker?" "Antie, kan ek dalk gou 'n bietjie meel kry?" "Antie, het julle miskien 'n bietjie tee?"

En my ma se deur het altyd oopgestaan. Niemand het ooit met leë hande van haar stoep afgestap nie. As daar was, het sy gegee. As daar min was, het sy gedeel.

Maar een keer elke jaar het iets gebeur wat ek as kind nooit mooi verstaan het nie. Wanneer die soutrapers van Bo-Sluis(Bosluis Basters) met hul karretjies kom en sout verkoop in die dorp, R2-00 vir ʼn sak vol, dan stuur sy my, of soms stap sy self, na van die huise wat gereeld by ons kom leen het. Sy met die kleinste leë “fishpaste” botteltjie

Daar aangekom vra sy beleefd: "Het julle dalk vir my 'n knippie sout om te leen?" Net dit. 'n Knippie sout. Iets wat by ons huis volop was. Iets wat byna niks werd was nie. Op 'n dag het ek haar gevra waarom sy dit doen. Toe glimlag sy daardie sagte glimlag van haar en sê:

"Kind, mense moet nooit voel hulle skuld ons iets nie. Hulle moet ook voel ons het hulle nodig." Ek het eers baie jare later verstaan wat sy bedoel het. My ma het geweet dat armoede nie altyd die swaarste las is wat mense dra nie. Soms is dit trots. Soms is dit skaamte. Soms is dit die gevoel dat jy altyd die een is wat ontvang en nooit kan teruggee nie. Met daardie klein bietjie sout het sy iets baie groter teruggekry. Sy het mense se waardigheid beskerm.

Sy het gemaak dat hulle weer die vrymoedigheid het om deur die jaar by ons deur aan te klop. Want nou was dit nie meer net hulle wat geleen het nie. Nou het hulle ook 'n keer vir Antie gehelp. Wanneer ek vandag terugdink aan my ma, onthou ek nie groot besittings of groot prestasies nie. Ek onthou 'n vrou wat die waarde van mense verstaan het. 'n Vrou wat geweet het dat vriendelikheid nie daarin lê om net te gee nie, maar om só te gee dat die ander mens steeds trots kan bly.

En elke keer as ek vandag sout in my kos strooi, dink ek aan haar. Aan die tannie wat een keer 'n jaar 'n knippie sout gaan leen het. Nie omdat sy dit nodig gehad het nie. Maar omdat sy mense nodig gehad het om te weet dat hulle ook nodig is. En dalk was dit die grootste les wat sy ooit vir ons nagelaat het.

"Ware liefde gee nie net brood vir 'n honger hand nie; dit gee ook waardigheid vir 'n nederige hart."

"Party mense los vir hulle kinders geld. Party los grond. Party los huise. My ma het vir ons iets baie ryker nagelaat. Sy het ons geleer hoe om mense se waardigheid te bewaar. En dit het sy gedoen met niks meer as 'n knippie sout nie."

Ma het verstaan wat baie mense nooit leer nie: 'n mens help nie iemand deur net sy hand vol te maak nie, maar deur sy hart heel te hou.

Indien julle dit geniet om die Stofpadkoerant te lees volg(Follow) asb die Bar-B-Que Steakhouse Parow se blad

Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 10 November 2026. Lees dit op Facebook.

Briewe aan die redakteur

Wat lesers op Facebook gesê het

Ai Marius, ek onthou jou ouers so goed. Die stil tannie, met altyd 'n vriendelike groet. En die vriendelike oom, blou overalltjie en rooi kar. Op 'n dag het die kar hom reg voor ons huis in die steek gelaat. Vir ure het hy geduldig onder die bonnet gekarring. Tot hy haar weer aan die loop gekry het. Kosbare herinneringe. Dankie dat jy die kant van die stil tannie, die deel wat ons nie geken het nie, met ons deel.

Elmarie B.

Daar is 88 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.