Oom Straussie se Honderdste Verjaarsdag
Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Vandag is 'n eeufees van herinneringe. As ek my oë toemaak, sien ek hom nie as 'n getal nie. Ek sien hom soos hy altyd was: die man met die songebrande gesig, die sterk hande en die rustige oë wat meer van die lewe verstaan het as wat baie boeke ooit sal kan leer. Ons “Namakwalanners” meet mense nie aan hulle bankrekening of titels nie. Ons meet hulle aan die voetspore wat hulle in ander se lewens los. En my pa se spore lê oral. In die kinders wat hy grootgemaak het. In die waardes wat hy geleef het. In die mense wat vandag nog sy naam met respek noem. Hy is die ander een wat my binneboom gesnoei het.
Vandag, die 11de November, sou ons Pa, Johannes Petrus Strauss, Oom Straussie, sy honderdste verjaardag gevier het.
'n Hele honderd jaar. 'n Honderd jaar se sonsopkomste oor vlaktes en koppies. Honderd jaar se lag, swaarkry, stories vertel, hande vat en spore trap. Honderd jaar gelede is Johannes Petrus Strauss in die Wes-Transvaal gebore, maar vir die meeste van ons was en sal hy altyd net oom Straussie wees. Maar die Here het lankal besluit sy hart gaan eendag tussen die koperberge van Namakwaland kom wortelskiet. Tussen Nababeep se mense het sy wortels diep gegroei, het sy storie deel geword van ons storie. En het hy nou nie wortel geskiet nie. Vir meer as vyftig jaar het hy hierdie wêreld sy eie gemaak. Die wêreld van dorings en daisies. Van stofpaaie wat kilometers loop sonder om vir iemand verduideliking te gee waarheen hulle oppad is. Die wêreld waar mense nog by name geken word en nie by huisnommers nie. As daar een plek was waar sy siel tot rus gekom het, was dit hier in Namakwaland. Tussen ons mense. Tussen sy mense.
As jy vandag oor Suider-Afrika sou ry, sal jy oral iets van hom kry. Hier 'n storie. Daar 'n lag. Elders 'n herinnering. Die as van sy kampvure lê wyd versprei oor Suider-Afrika. Van Rhodesië tot die Protektoraat, van Suidwes tot die verre paaie wat hy deur sy lewe bewandel het. Oral waar hy geloop het, het hy iets van homself agtergelaat. 'n Storie. 'n Les. 'n Spoor. Want oom Straussie was nie sommer net 'n reisiger nie. Hy was 'n padmaker, ʼn Pa, my Pa. Dalk het hy dit nie altyd in groot woorde gesê nie, maar deur sy lewe het hy ons geleer wat dit beteken om werklik mens te wees.
Pa was een van daardie manne wat nie groot geraas gemaak het nie. Hy het eenvoudig sy pad geloop. Maar wat 'n pad was dit nie. Hy het nie net vir homself geleef nie. Hy het vir ons die pad oopgemaak. Wanneer daar doringbosse was, het hy gekap. Wanneer daar klippe in die pad was, het hy gebuk en dit uitgerol. Wanneer die wêreld swaar geraak het, het hy sy skouers onder die vrag ingesit. Vandag verstaan mens eers wat dit beteken.
Want die paaie wat ons nou loop, het hy lank terug reeds gestap. Sy spore lê nog daar. Soms sien ons dit in die manier waarop ons werk. Soms hoor ons dit in woorde wat uit ons monde kom. Soms vang ons onsself dat ons lag soos hy gelag het.
Dan besef ons weer:
Die ou padmaker is nog met ons. Net op 'n ander manier. En so onthou ek nog daardie aand by McDougallsbaai. Die Here het die hemel vol rooiwangappelkleure geverf. Die see het stil gelê en die wêreld het sagter begin asemhaal. Toe het Hy vir Pa kom haal. So eenvoudig soos dit. So mooi soos dit. Vandag dink ek dikwels dat 'n reisiger soos my Pa nooit regtig ophou loop nie. Hy stap net verder. Miskien loop hy vanaand nog op stofpaaie van sterlig. Miskien sit hy op een van die Here se koppies en kyk hoe die son oor die hemelrand sak. Miskien vertel hy alweer stories vir almal wat daar aankom.
Maar een ding weet ek. As die melkweg vanaand helder skyn oor Namakwaland, sal daar tussen die sterre 'n ou Namakwalander wees wat glimlag. 'n Man wat sy storie klaar vertel het. 'n Man wie se stofpadkoerant vol geskryf is. 'n Man wat die wêreld 'n mooier plek gelos het as wat hy dit gekry het.
Gelukkige honderdste verjaarsdag, Pa. Die wind dra nog jou naam oor die vlaktes. En jou spore lê nog vars in die harte van die mense wat jou liefhet. "Want sommige mense word nie oud in jare alleen nie. Hulle word oud in stories, in herinneringe en in die liefde wat hulle agterlaat."
Van jou seun Marius, net Marius en die ander Strauss kinders. Ronelle, Johannes, Elmar en Linsa
Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 11 November 2026. Lees dit op Facebook.
Briewe aan die redakteur
Wat lesers op Facebook gesê het
Marius jy roer my hart snare. As ek jou stofpad storie oor jou pa lees Kan ek myself maar in jou plek plant. Dit Kan ook my storie oor my pa wees. Hoe Kan ONS ooit weer hierdie sout Terug kry. Jy skryf so hartroerend dat ek myself op daardie klipkoppie bevind en die son sien opkom en onder Gaan. Groot asseblief skryf jou stories in n boek. Ek sal eerste een wees wat dit koop. Van jou SAKE BUURVROU. ( N BOESMANLANDER. TIEKIE
Daar is 27 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.