Uitgawe van Sondag 8 November 2026Parow

Die Stofpadkoerant

Sondag 8 November 2026Terug na die voorblad

Die Stofpadkoerant en die Lappieskombers

Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Foto by die storie

Die ou mense van Namakwaland het gesê elke mens dra sy eie stofpad in sy skoene. Party paaie loop reguit. Party kronkel. En party, soos dié van die jong man in hierdie storie, sy naam Marius, net Marius die een met foute, waai soos los sand voor die wind. Toe hy jonk was, het hy gedink sy lewe moet klaar uitgelê wees soos 'n nuwe grondpad wat tot doer teen die horison strek. Hy wou weet waarheen hy op pad is, wie en wat hy gaan word en hoe sy storie gaan eindig.

Maar die lewe het ander planne gehad. Hier verloor hy 'n werk. Daar verloor hy 'n liefde. Verder aan verloor hy homself 'n bietjie. Soos die jare aangestap het, het sy lewe vir hom gevoel soos 'n sak vol los lappies. Hier 'n stukkie seerkry. Daar 'n stukkie geluk. 'n Bietjie lag. 'n Bietjie huil. Herinneringe wat oral rondlê sonder dat hulle ooit bymekaar pas. Wanneer hy saans alleen sit, het hy dikwels gewonder waarom niks mooi aaneen wou val nie. Waarom sommige mense se lewens soos netjiese patrone lyk, terwyl syne soos 'n hoop deurmekaar lappe voel. Totdat hy begin krap in sy binneboom se onthou van baie gisters terug: Jarre gelede het hy by sy ouma gesit. Sy het stil gesit op die stoep met 'n lappieskombers op haar skoot. Haar knopperige vingers het stadig tussen honderde stukke materiaal beweeg.. Hy het lank gekyk voordat hy vra: "Ouma, hoe weet Ouma watter lappie pas waar?" Sy het geglimlag sonder om op te kyk. "Ek weet nie altyd nie, my kind." Hy het gelag. "Maar dit lyk dan so mooi wanneer dit klaar is." Toe steek sy die naald deur nog 'n stukkie materiaal en sê: "Dis omdat ek nie na een lappie op 'n slag kyk nie. Ek kyk na die kombers wat dit eendag gaan wees." Daardie woorde het diep in my gaan lê.

Later in die lewe, terwyl die son soos ʼn rooiwang appel oor die koppies van Namakwaland sak, het hy skielik aan sy eie lewe gedink. Miskien was die werk wat hy verloor het net 'n lappie. Miskien was die liefde wat sy hart gebreek het ook net 'n lappie. Miskien was die swaarkry, die mislukkings, die eensaam dae en selfs die mooi oomblikke maar net stukkies materiaal wat nog nie aanmekaar gewerk was nie. Want God en die lewe werk dalk soos ouma. Hulle sien die hele kombers. Ons sien net een lappie op 'n slag.

Vandag, baie jare later, sit daardie jong man soms met sy eie herinneringe. Hy noem dit sy Stofpadkoerant. Elke storie is 'n berig. Elke mens wat oor sy pad gekom het, 'n opskrif. Elke traan, elke lag en elke les 'n stukkie nuus uit sy lewe.

En wanneer hy terugblaai deur die vergeelde bladsye van sy onthougoed, sien hy iets wat hy as jong man nooit kon sien nie. Die los lappies het begin bymekaar kom. Die seerkry het hom sagter gemaak. Die verliese het hom dankbaar gemaak. Die verkeerde draaie het hom by die regte mense uitgebring. Selfs die storms het hul plek in die patroon gekry. En daar, oor sy skouers, lê nou die lappieskombers van sy lewe.

Nie perfek nie. Nie foutloos nie. Maar warm. Vol betekenis. Vol stories. Bruikbaar.

Net soos Ouma altyd bedoel het. Want 'n mens se lewe word nie mooi omdat alles reg verloop nie. Dit word mooi omdat die los lappies van gisters uiteindelik 'n kombers word wat iemand anders môre warm kan hou.

Iewers sit Ouma nog en stik. Kyk na jou gisters miskien sien jy haar raak, kyk na die Lappieskombers van jou lewe op haar skoot.

Liefde van Marius, net Marius en die Mevrou met Ouma se Lappieskombers

Indien jy die Stofpadstories geniet volg asseblief Bar-B-Que Steakhouse Parow

Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 8 November 2026. Lees dit op Facebook.

Briewe aan die redakteur

Wat lesers op Facebook gesê het

Jy skryf met soveel passie en as ek dit lees verander dit in n storie. n Laslappie kombers, wat jou lewe bymekaar bring. My man het n beroerte gehad en volkome herstel. Hy is my engelsman en sy woorde was een aand toe ek by sy bed sit, " it did not happen to me, it happened for me" en jou hele denkwyse verander. Sterkte Marius, jou aanloopbaan is nog lank. 🩷🌷

Merle S.

Daar is 211 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.