Uitgawe van Woensdag 4 November 2026Parow

Die Stofpadkoerant

Woensdag 4 November 2026Terug na die voorblad

ʼn Rekening Wat Veertig Jaar Oop Gebly Het

Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Foto by die storie

Saterdagoggend by die Parow Versorgingsoord het ek gaan stories haal, gaan bemoeienis maak met mense wat al geloop het waar ek nog moet loop. Saterdag kon ek my storie vertel wat 40 jaar gelede gebeur het en my rekening betaal aan ʼn besondere mens en uitsonderlike kunstenaar toe die organiseerders my vra om vir Philip Moolman aan die mense voor te stel, wat ʼn mens.

Kom raak stil, kry ʼn sit ding en lees die Stofpadkoerant.

Vandag wil ek 'n klein storie vertel. Dis 'n storie wat veertig jaar gelede begin het, toe my hare donkerder was, my beursie ligter was, en my drome heelwat groter was as my bankbalans.

Destyds het ek die voorreg gehad om saam met hierdie besondere kunstenaar te werk. Hy het week na week opgetree en die mense vermaak by die Bar-B-Que Steakhouse Parow. Maar soos baie van ons weet, kom daar tye in die lewe wanneer die somme op die papier net nie wil uitwerk nie.

Een dag moes ek die moeilike besluit neem om hom op kort kennis te vra om nie meer op te tree nie. Nie omdat ek wou nie. Nie omdat sy talent tekort geskiet het nie. Inteendeel. Ek kon eenvoudig nie meer die R50 per aand bekostig nie.

Vandag klink R50 soos die prys van twee koppies koffie en 'n beskuitjie wat te lank in die koffie gedoop is. Maar destyds was dit geld. Ernstige geld.

Ek onthou nog hoe swaar dit vir my gevoel het. Want wanneer jy vir iemand moet sê: "Vriend, ek kan jou nie meer betaal nie", slaap jy nie daardie aand maklik nie.

Die wonderlike ding van die lewe is egter dat dit soms in groot sirkels beweeg. En vandag, hier sit ons weer langs mekaar. Nie as twee mense wat mekaar iets skuld nie, maar as twee ou reisigers wat lank genoeg geleef het om weer by dieselfde rusplek uit te kom.

Toe ek hoor ons gaan weer saam optree, het ek gedink daar is iets wat ek moet regmaak.

Nou, ek het die saak deeglik bereken. Ek het rente probeer uitwerk. Ek het inflasie probeer bereken. Ek het selfs gedink om 'n ouditeur te kry. Maar toe besef ek as ek al die rente, boetes en verhogings bytel, gaan ek waarskynlik my huis moet verkoop!

Daarom het ek besluit op iets eenvoudiger.

Philip veertig jaar gelede het ek jou op kort kennis laat gaan. Vandag gee ek jou met groot liefde en waardering 'n volle maand se kennis.

Hierdie is nie net betaling vir optredes van lank gelede nie. Dit is 'n dankie. 'n Dankie vir jou talent. 'n Dankie dat jy nooit bitter geword het nie. 'n Dankie dat die lewe vir ons nog 'n kans gegee het om saam op dieselfde verhoog te staan.

Phillip, mag hierdie klein gebaar vir jou sê wat woorde soms nie kan nie:

Dat ek die verlede onthou. Dat ek jou waarde onthou. En dat ek baie bly is dat ons vandag nog saam 'n lied, 'n lag en 'n herinnering kan deel.

En vir my vriend Phillip Moolman hier langs my: Veertig jaar laat... maar gelukkig nie een dag te laat vir dankbaarheid nie. In sy hand vier vyftig rand note – ons is ryk!!!!!!

Die Stofpadkoerant beveel hierdie kunstenaar, Philip Moolman , aan om by enige funksie wat julle wil hou op te tree. Sy hart is reg en sy talent onverbeterbaar.

Foto by die storie
Foto by die storie
Foto by die storie

Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 4 November 2026. Lees dit op Facebook.

Briewe aan die redakteur

Wat lesers op Facebook gesê het

Marius, ek wil weer kom sing, by Bar-B-Que Steakhouse. Wat van Dinsdagaand 5 Jan. / Sa.-middag 9 Jan. / So.-middag 10 Jan. 2027? Ek vra net R50, ‘n glas Tassies en ‘n T-Bone steak. Bel my, dan maak ons ‘n plan.

Philip M.

Philip Moolman jis dis mos nou n plan! sheit... maar how about bietjie later in die maand ... ?????

Karen B.

Daar is 59 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.