Uitgawe van Sondag 1 November 2026Parow

Die Stofpadkoerant

Sondag 1 November 2026Terug na die voorblad

Die Stofpadkoerant onthou vir Bokwagter van die Veld, my saamloper noi

Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Foto by die storie

Volg asb die Bar-B-Que Steakhouse Parow blad.

Raak stil saam met my, Anita Cronje en my oompie Schalk. Dankie dat julle vir ounoi aan my bekend gestel het 38 jaar gelede.

Julle wat my ken, weet mos. Kookskerms en veewagters lê diep hier binne-in my, op daai sagte plekkie waar mens jou mooiste onthougoed bêre. As die stad se geraas te swaar raak, die gejaag te veel word en die mense se stemme soos wind deur sinkplate klink, dan raak my hart padlangs. Dan verlang ek terug na my komvandaan. Na die stofpaaie van Namakwaland, na die skaapkraal se stilte, na die rook wat vroegoggend uit 'n kookskerm draai. Dis daar waar my siel weer asem kry. Dis daar waar 'n mens leer dat vrede nie geld kos nie, maar tussen mense woon.

En tussen al die mense wat oor my pad gekom het, is daar een wat anders is. My Bokwagter. Die enigste Bokwagter wat ek ken. 'n Dogter van die veld. 'n Mens met sagtheid in haar hart en moed in haar bene.

Vrydag stap sy weer deur my deur.

Nie met geraas of verwagting nie. Net met daardie stille teenwoordigheid wat maak dat 'n vertrek ligter voel. Sy kom stap saam met my op die brug wat ek die afgelope maande self moes oorsteek. Daai lang brug van onsekerheid, bang dae, stil nagte en vrae waarvoor daar nie altyd antwoorde is nie. Maar die ding is... Bokwagter stap nie net saam nie. Sy help bou die brug klaar. Met haar glimlag. Met haar sagte oë. Met die vrede wat soos veldreuk om haar hang.

Sy loop ook haar eie moeilike pad. Sy dra haar eie seer. Sy baklei haar eie oorlog teen kanker. Tog kla sy nie. Tog glimlag sy. Asof sy iewers diep binne weet dat hoop sterker is as vrees.

Toe sy onder my blad inskuif en ek haar vasdruk, het ek vir haar gesê: "Alles gaan regkom." Maar die waarheid is dat sy daardie dag meer vir my gegee het as wat ek vir haar kon gee. Want sy het my gewys hoe moed lyk. Nie die groot, lawaaierige soort nie. Die stille soort. Die soort wat elke oggend opstaan, al is die pad swaar. Die soort wat glimlag, al maak die lewe seer. Die soort wat glo, al kan jy nog nie sien hoe die storie gaan eindig nie.

Ek het na haar gekyk en gedink hoe mooi sy is. Nie oor hare nie. Nie oor voorkoms nie. Maar omdat vrede in haar woon. Die hare sal weer groei. Die ongemak sal stadig wegstap. Die wonde sal genees. Maar die lig wat in haar brand, die vonkel wat in haar oë leef, dit is die mooi wat kanker nooit sal kan wegvat nie.

Ons twee se brug gaan nog baie mense help. Mense wat eendag hierdie selfde pad moet loop. Mense wat bang gaan wees. Mense wat gaan wonder of hulle sterk genoeg is. Dan sal hulle weet:

Daar was eenmaal 'n Bokwagter en n Namakwalander wat gewys het hoe om met genade deur die storm te stap.

Byt net vas, my mater. Die pad raak soms lank, maar geen pad hou vir altyd aan nie. Moenie ophou glimlag nie. Moenie daai vonkel in jou oë verloor nie.

En as die Suid-Ooste wind eendag weer oor die vlaktes huil, onthou daar is iemand wat altyd dankbaar sal wees dat jy saam met hom op sy brug gestap het. Moet my nooit vergeet nie, my Bokwagtervriendin, Want diep hier binne my, tussen die stofpaaie, die kookskerms en die herinneringe van my komvandaan, sal jy altyd jou eie besondere plekkie hê, op die voorblad van die Stofpadkoerant.

Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 1 November 2026. Lees dit op Facebook.

Briewe aan die redakteur

Wat lesers op Facebook gesê het

Marius jy hét darem die vermoë om op jou manier iets te sien en vas te lê, wat soms so ongemerk by ons verby gaan! Hou so aan....jy maak ons oë oop.

Annabelle B.

Daar is 22 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.