Oepse-Daisy Ek Is Nog Nie Dood Nie...
Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Dit is nou maar eenmaal so in die lewe. As twee mense lank genoeg op 'n sypaadjie staan en gesels, word 'n storie gebore. As vier mense dit oorvertel, word dit nuus. Teen die tyd dat ses mense dit vertel, is dit gewoonlik al 'n volle roman en evangelie.
So het dit gebeur dat die nuus onlangs soos 'n veldbrand versprei het dat die Bar-B-Que Steakhouse Parow permanent sy deure sluit.
Toe kom die tweede weergawe.
Volgens die kenners is die restaurant nie eintlik besig om toe te maak nie. Nee, die Bar-B-Que is alreeds toe en dit is omdat ek terminaal siek is en nie verder kan aangaan nie.
Toe kom die derde weergawe.
Ek is glo reeds dood.
En toe hoor ek van 'n ou wat met groot oortuiging vir iemand vertel het dat hy selfs op my begrafnis was. Nou weet ek nie van julle nie, maar as daar 'n begrafnis was en ek was nie daar nie, voel ek darem effens uitgesluit. Ek is ook teleurgesteld dat niemand vir my gesê het van die kos na die diens nie. Ek kon mos darem self die eetgoed gemaak het.
Laat ek dus die rekord regstel voordat iemand begin vra waar die kranse afgelewer moet word. Ja, ek is met kanker gediagnoseer. Ja, ek moet operasies ondergaan. Nee, ek is nie dood nie.
Nee, die Bar-B-Que Steakhouse sluit nie permanent nie. En nee, die oorblywende personeel verkoop nie die meubels op Facebook Marketplace nie.
Die waarheid is heelwat eenvoudiger as die stories wat rondloop. Ons sluit op die aand van 12 Desember en maak weer op 7 Januarie oop sodat ek die nodige behandeling en hersteltyd kan kry.
Dis al. Geen drama nie. Geen laaste afskeidstoer nie. Geen swart roubandjies om die restaurant se naambord nie.
Net 'n man wat vir 'n paar weke moet gaan stilstaan sodat die dokters kan doen waarvoor hulle geleer het.
Ek moet darem erken dat hierdie hele ervaring my iets geleer het. As mense jou al begrawe terwyl jy nog leef, bespaar dit baie moeite later. Jy kry sommer vroegtydig te hoor wat almal van jou dink.
En ek moet sê, die liefde, ondersteuning, gebede en mooi boodskappe wat ek ontvang het, beteken meer as wat woorde ooit sal kan sê. Aan almal wat gebel, geskryf en gebid het: dankie.
Aan almal wat gerugte versprei het: dankie vir die bemarking. Julle het waarskynlik meer mense laat praat oor die Bar-B-Que Steakhouse as enige advertensie wat ek ooit kon bekostig.
En aan die man wat reeds my begrafnis bygewoon het: ek hoop jy het dit geniet. Wanneer die dag eendag regtig kom, is jy welkom om weer te kom.
Maar voorlopig gaan ek eers terugkom werk toe. Die vuur gaan weer brand. Die steaks gaan weer sis. Die stories gaan weer om die tafels loop.
En as die Here wil, sal ek self daar wees om te kyk of die mense die kos betaal voordat hulle ry. Op die stofpad van die lewe word daar soms slegte nuus oor jou geskryf voordat jy self daarvan weet. Maar geloof leer 'n mens om nie na die geraas van die pad te luister nie. Luister liewer na die Een wat die pad gemaak het.
Terloops, vir almal wat bekommerd is: ek is nog hier. Ek asem nog, ek praat nog, ek eet nog, en volgens my dokter en my vrou pla ek mense nog presies dieselfde as voorheen. Hierdie is regtig tong in die kies geskryf en ek verstaan waar die misverstand vandaan kom.
Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 23 November 2026. Lees dit op Facebook.