Uitgawe van Donderdag 2 April 2026Parow

Die Stofpadkoerant

Donderdag 2 April 2026Terug na die voorblad

Ek het n maat wat net daar is wanneer ek hom nodig het, net daar in die skadu…

Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Ek het n maat wat net daar is wanneer ek hom nodig het, net daar in die skadu van die swartste nag en ook sommer daar in die mooiste dag, ook vandag hier, en ons praat oor armbande en klippe en Namakwaland, Kaapstad en die Kalahari, ons praat oor perde en vrede en heilige goeters en ook sommer net oor Vrede wat soveel vir my beteken het. Nou is dit Paasfees en ons praat oor kruisdood en wonder of mense Vrydag bietjie kerk toe sal gaan, daar waar hulle ookal gaan wees, of sal dit maar weer een van daardie dae wees wat maar net weer gister gaan word, en ek en vriend skryf hartsgoed neer en die dag gaan later nag word en more amper 1993 jaar gelede, wie geen om, het Jesus vir ons sonde gesterf. Ek deel hierdie briefie vir al my vrinne en ook sommer vir almal wat wil dink en onthou en wat glo in vrede.

Ek’s weer op die stoep. behalwe dat dit hierdie keer die voorstoep en nie die agterstoep is nie. Ook dat ek nie weer in die donker sit nie. want dis koffietyd op hierdie laatmiddag.

Dis vroegherfs. Die nagte nou opmerklik koeler en die son sukkel al om op te kom, en die kleurvolle seisoensverandering van ritselende roesbruin blare gaan weer nie in my hart rondwaai nie want die kalahariwoestyn het nie juis blare nie. net die een grasvlakte op die ander. met as enigste afwisseling rooiduin op rooiduin. tot anderkant die verste sien.

Ek het nounet die uitgebrande kers op die houtrak langs die koolstoof vervang waar die donkergeel vlam dae lank al tussen die kruis en oop graf by ʼn kunswerk diens doen.. dag en nag. Die werk is deur ʼn onbekende met gips gedoen en beeld ʼn swaar kruis op ʼn heuwel uit. Met skuinsagter ʼn oop graf diep in die koue rotswand uitgekap.

Tans val die strale van die dansende vlam hoofsaaklik op die kruis. Die reghoekige skaduwees is aangrypend maar die skadu oor die ruwe klip van goedkoop gips spreek dieper.. Die gebroke en krom lyne daarvan loop soms elkeen sy eie koers teen die steilte af.. asof verward.. onseker.. bang. en die stilte om die toneel sny diep.. Maar net as jy dit verstaan en lankgenoeg daarna kyk. Ook is daar niemand om die kruis sigbaar nie al staan Maria en haar susterskind steeds ook daar bokant die koolstoof.. die een vir wie gesê is ‘daar is jou moeder’. En al hoor ek steeds die blykbaar sinnelose hulpkreet ‘my god my god waarom..’

Oor ʼn dag is dit goeie Vrydag. Teen twaalfuur van die eerste dag van die paasnaweek sal ek die kortgebrande kers tussen nerfafbeker en geduikte ketel in my ou kombuis doodblaas. asof ek ook dood verstaan.. of daaroor kan besluit. En teen drieuur dieselfde middag steek ek dit weer aan. Vir die lig van die vlam om die aandag dan op die donkergraf te vestig. Waar die angel van helse pyn en lyding koud in die donker weggesteek lê en ontbind.

Later.. as die rooi son die tweede dag van die paasnaweek aankondig en die kilheid en finaliteit van die dood nog swaar in die lug hang sal ek die gipstoneel in die swak lig op die houtrak telkens besoek.. Elke keer as ek moet water drink of iets eet. Of net wil sit en peins oor die verlate doodsgat van daardie Saterdag. Net buite Jerusalem.

En as nog ʼn doodsnag sonder hoop of verduideliking verby gesleep het, sal ek op die derde dag van die paasnaweek vroeg opstaan…., terwyl dit nog donker is, my na die koue gipsgraf op die houtrak bokant my stoof haas asof met Petrus en Johannes. en die vroue. Net om saam met hulle weer die woorde te hoor..

‘moenie vrees nie.. want Hy het opgestaan soos Hy gesê het’ Mag hierdie naweek nie net n gewone naweek vir julle wees nie. Dankie vriend vir die lekker gesels. Barrie ek mis ons kuiers hier in die kookskerm. Vrede op aarde vir al my maters en vrinne. Ons by die Bar-B-Que is lief vir julle.

Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 2 April 2026. Lees dit op Facebook.

Briewe aan die redakteur

Wat lesers op Facebook gesê het

Soos net Marius dit kan beskryf.

Nita J.

Daar is 32 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.