Hierdie oom het ek vriend genoem, ook die oom wat maak dat ek verlang na al…
Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Hierdie oom het ek vriend genoem, ook die oom wat maak dat ek verlang na al die mense wat my pad hier by die Bar-B-Que Steakhouse Parow gekruis het en nog sal kruis. Die oom was ñ goeie oom, maar eindelik net ñ boemelaar. Oom Kallie Gagiano(Casno). Ek het hierdie stukkie 14 jaar terug op ñ ander blad gesit en tot vandag toe is dit die waarheid, omdat die Grootboek so sê:
Matewis 10 in die Grootboek se mens moet bemoeienis maak met ander mense, gaan soek dit maar daar, die hele Matewis 10. Die dag toe ek op die ou houtstomp in my tuin sit en in die laaste vlamme van die “rooitknooi” tuur en wonder waarheen nou, het oom Kallie so stil, stil langs my kom sit, so in die gedagte. Indien jy hom wou sien sou jy hom sien en het ek besef ons maak nie bemoeienis meer met die mense wat ons kinderjare se binnekantbome help snoei het nie. Ek het my bedrol (eindelik net n lappieskombers) bymekaar gevat en die 600km of so aangepak, ek wou negosie gaan optel by ashopies van baie lang jare terug, ek wil gaan bemoeienis maak met oom Kallie Gagiano. Die laaste 30 tree na sy sinkhuis het ek gestap, my lappieskombers, rooster en die laaste vet skaaptjops van die slaghuis in Springbok, ook n bietjie wors en brood sommer daar by die Spar gekoop. Min verduidelik het hy geweet wie ek is en waarom dan nou die skielike liefde, en voor die eerste vetdruppels in die vuur sis kom sy storie, so al asof dit maar so moet wees. Sy baie jare as prospekteerder, Namakwaland kruis en dwars, Richtersveld en ook Duitswes, op die rykdomme van ons wêreld geslaap, koper gesoek in diamant wêreld, altyd maar vorentoe en die rykdomme gemis, hy en sy donkies en sy pik en graaf. Soms het hy dorp toe gekom om proviand aan te koop en bietjie met die jong meisies te kattermaai, net soms, want die eensaamheid van Namakwaland se klipkoppe en die ekstase van miskien eendag, daardie groot “pocket”, miskien eendag daardie groot rykdom het maar altyd geroep. Die laaste langpad was Nababeep toe, hy en die vader van sy troppie donkies, indien ek reg onthou Vaaltyn of Grasveld. Oom Kallie se oe was al dof van ouderdom, die glans wou, wou so half terugkom wanneer hy praat van daardie hings donkie. Wou half sweer dat alle donkies in en om Nababeep afstammelinge van sy geliefde Grasveld (Vaaltyn) was. “Ja, alle donkies wat julle jong manne so half dood gery het hier in hierdie vlak is gevaar deur my donkie” Dit was al trots wat hy regtig gehad het, ja dit en die viool, die lieflikste klanke het hy uit daardie viool getower met ou verinneweerde hande, het later verneem een van sy donkies het die viool moertoe getrap. Ook het die donkies veroorsaak dat oom Kallie op n stadium verban is in Nababeep, die rede glo dat hy sy donkies vrye reg gegee het in die mooiste tuine in die dorp. Dit ontken hy ten sterkste, wel in die droogte sy donkies laat wy in die tuine van die mense wie se kinders hom die meeste probleme gegee het. Dit het laat geword en oom Kallie het moeg geword, ek het my kombers sommer daar langs sy vuur oop gerol, hy het in sy drom ingekruip. Toe Orion die nuwe dag aankondig het ek nog nie geslaap nie, “Ja oom Kallie, aan goed en geld het jy weinig gehad, geen waarde daaraan geheg nie, maar vir ons Nababeep kinders was jy een moerse groot plesier verskaffer, daar waar jy en jou donkies nou swerf maak die mense baie meer bemoeienis met mekaar, daardie laaste beker koffie die oggend voor ek by Oom weg is sal ek altyd onthou, daardie “Black & White” sakkie, die een wat oom in my hand gedruk het met die traan in Oom se oog, het Oom regtig nie geweet dat daardie munt suiwer, ag kom ons vergeet dit maar, aan goed en geld het Oom geen waarde geheg nie.” Waar jy ook al op reis is, van een reisiger aan n ander, mag Oom se paaie met satyn oorgetrek wees sodat Oom se reis glad kan wees, sonder kinders om jou te treiter.
Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 1 Julie 2026. Lees dit op Facebook.
Briewe aan die redakteur
Wat lesers op Facebook gesê het
As klein dogtertjie onthou ek hom. Ek was so bietjie bang ook vir hom.Ons het in Brickfield straat gebly en oom Kalie was soms agter ons huis in die veld.
Juanita oompie Klaas se kind
Daar is 110 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.