Uitgawe van Saterdag 25 Julie 2026Parow

Die Stofpadkoerant

Saterdag 25 Julie 2026Terug na die voorblad

Dit is laatnag, die wind huil hier teen my ruit, in my binneste hierdie…

Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Foto by die storie

Dit is laatnag, die wind huil hier teen my ruit, in my binneste hierdie eensame hartseer vir die Mevrou. Sy wat saam met my opgeroep is na die Dokter se spreekkamer. Sy wat vra hoekom en ek wat weet waarom. Hierdie Vrydag nou nie my beste dag, het gedink volgende week sal ñ lang week wees om te wag vir die uitslae van toetse gedoen, en toe die telefoonpratertjie lui en die Mevrou gee die pratertjie vir my, toe slaan hierdie oemf in my vas, volgende week se oproep het nou gekom. Die voorblad van my stofpadkoerant het nou verander, my stofpadkoerant het n heimweepad bygekry na die nie geloopte paaie van my gisters. Hierdie pad is ñ nuwe pad vir my, nog nooit op hom geloop nie en sal ek nou die mooi van my gisters moet gebruik om fluit, fluit op hierdie pad te loop. Ek weet hierdie troebel stormwater sal weer helder word, oor ñ jaar het die wind die hartseerhopie weer gelyk gewaai en vandag se pyn in die hart van die Mevrou toe sy moet luister na die somber, swart woorde van Dokter sal vergete wees. Daar is een kans, oor ses weke miskien nog een, maar vir my is een kans genoeg, ek sal dit gebruik. Dit is stil hier in my huis vanaand, die Mevrou het gaan slaap, die weemoed in haar hart is nou stil en ek wat nog nie ñ antwoord vir haar gehad het toe sy vra, weet nogsteeds nie wat om te sê nie. Vanaand is dit nie die wind wat die heimwee in my hart sing nie, vanaand is dit die stilte. My gebed vanaand is:

Here sal U asseblief ñ muurtjie om my bou en my beskerm teen hierdie ongevoelige houe van die lewe. Beskerm ook almal om my teen die onverstaanbare paaie van my lotsbestemming. Here help my om nie net die trane in my eie hart af te droog nie, maar ook die leed in ander raak te sien. Help my dat ek die reënboogskittering van ñ reëndruppel op ñ roos se blaar kan sien, en die donker knegskap van hierdie omstandigheid waarin ek is te aanvaar. Help my Here om net Marius Strauss, U kind te wees. Amen.

Soos julle kan agterkom was die uitslae nie so goed soos wat ek dit wou hê nie, maar wie is ek om te bepaal hoe my lewenspad moet loop. Die kanker is behandelbaar en die kanse vir herstel baie goed. Wil nou nie voorspel van hoe goed nie, oor ses weke weer toetse en indien daar n verandering kom in my uitslae is daar nog n beter kans by. Op die agtergrond sing Richard v d Westhuizen “Lewe jou Lewe…………….”

Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 25 Julie 2026. Lees dit op Facebook.

Briewe aan die redakteur

Wat lesers op Facebook gesê het

Jaques, Ina, Morne en Dian dit is half vyf in die oggend, julle moet gaan slaap. Dankie vir die belangstelling en die omgee, Elsonia jy ook en Freddie

Die redakteur antwoord

Daar is 498 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.