Maandag telefoonpratertjie bewe aaneen nadat ek my bang nuus rugbaar gemaak…
Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Maandag telefoonpratertjie bewe aaneen nadat ek my bang nuus rugbaar gemaak het en die Bar B Que Steakhouse amptelik vir Woensdag geluit het. Vrinne het begin voorspoed en sterkte en gebede aanstuur. Ek het weereens tot die besef gekom dat vrinne van die Bar-B-Que, (ander plekke noem hul kliente) die beste mense is, mense wat jou bystaan deur dik en dun. Net soos mens jou skoene as kind uitgroei het ek myself in die spieel gaan bekyk en tot die besef gekom my vel het my lyf uitgegroei. Lyk dan of my plooie kan seer wees. Besef ek ñ gekraakte kalbas was op sy tyd ook n mooi wit blom aan ñ rankplant, en ek kry vrede. Elkeen wat geskryf of gebel het, baie dankie. Ek het elkeen gelees en met jou gaan stap op die agterpaaie van my lewe. Van julle kom al van vêr af, die ontmoeting is net ñ skim in my verlede, maar ek het gaan soek en gekry. Ander het op die nagwind na my toe aangesweef gekom, nie dourie wind wat tussen die bome huil, huil, verdrietig aankom en eensaamheid saambring nie. Nee, meeste het gekom soos die lied uit ñ vrou se hart, soms het dit die klank van die dagbrekertjie ander keer na troebel water.
Die glimlag het vanself gekom toe ek besef dat bang, die soort bang waarmee ek in my hart geloop het, en nog loop, altyd groter is as die hart is waarin dit moet bly en al die mooi van die lewe is soveel mooier as jy hom koester met liefde. Dankie vir al die liefde hierdie week , vir die omgee briefies, die tekentjies van trane en biddende hande en ook die duime. Hierdie week se paar dae, min geslaap, baie gedink, gewonder en meer gebid, tot die besef gekom dat die winde op jou lewenspad heimwee sal bring, soms stilte en af en toe sal daardie winde die mooi van amper 500 000 omgee briefies teen jou vaswaai. Mag die wind en die reën en die stilte en die alleen net mooi vir julle almal, mense van my hart, inhou.
Liefde van my en die Mevrou.
Sal die stofpadkoerant gereeld opdateer, maar dit lyk my die volgende tien jaar kan nog goed verloop.
Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 22 Julie 2026. Lees dit op Facebook.
Briewe aan die redakteur
Wat lesers op Facebook gesê het
WOW!!! Jy het 'n talentvolle skryfstyl Marius. Diep woorde neergepen. Dit is dalk tyd dat jy die "Kappery van die snitchels" oorhandig aan een van die ander personeel om tyd te hê om dan jou "Hand aan die pen te sit" en nog meer stories te skryf. Dalk 'n boek - ek sien hier kom 'n TOP VERKOPER! Dankbaar jou diagnose is behandelbaar en wens jou spoedige en volkome genesing toe.
Daar is 155 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.