Bietjiedag terug se Sandsuikerlekker skinderstorie, sê ek een, miskien twee…
Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Bietjiedag terug se Sandsuikerlekker skinderstorie, sê ek een, miskien twee skinderstories. Nouja, hier is die tweede een. Klompie jare gelede, antie kom vertel van vlugtelingskind wat op straat gaan wees indien niemand wil help nie. Kind praat goed, ongelukkig nie Afrikaans of Engels nie, skryf en lees glad nie. Die Bar-B-Que Steakhouse Parow weet hierdie gaan ʼn moeilike een wees, maar indien ons nie probeer nie gaan ons nie weet nie. Drie weke en sy praat ʼn klein bietjie Afrikaans en Engels en ons besef hierdie kind het ʼn aanleg. Sy praat vinnig ʼn taal, maar verstaan vaalkol, en die Bar-B-Que stuur haar skool toe, net een vak, lees en skryf en verstaan, al wat sy moet leer. Sewentien jaar oud, vir ʼn begin is Engels nodig en Doppie(Ketsia) leer vinnig. Doppie word gelief, Doppie praat oor haar toekoms, sy wil êrens kom. ʼn Kind sonder skool, ʼn kind met drif, ʼn kind op pad na ʼn môre. Lang storie kort, in vier maande lees en skryf en verstaan sy Engels en sy begin haar lewe te verbeter. Die Bar-B-Que stuur haar op ʼn kursus in die rigting waarin sy belangstel. Naels en "makeup" maar nie hierdie mooimaak 'makeup" nie, die een op filmsterre, die "makeup" vir brandwonde, koeëlgate en snye, en Doppie kry na ʼn paar jaar haar papiere en ʼn trots wat aan windgat grens, en Babba is self windgat, sy eerste kind en hopenlik sy laaste deur die skool. Doppie het papiere by ʼn gerekende instelling gekry en haar drome word groter. Groter as groot, Doppie praat ses tale en een dialek, praat dat die luisteraar kan verstaan wat sy wil sê. Afrikaans, Engels, Frans, ʼn dialek wat hulle in die Congo praat, Xhosa, Shona en sy kan haarself help in Mandereins. En toe die dag wat nie lekker vir ons almal was nie, die dag wat Doppie sê "Babba, ek bedank, ek gaan Frankryk toe, ek het werk gekry en ek gaan verder leer". Paar maande later en baie "whatsapps", kom die boodskap: Babba, thank you and thanks for Mamma(dit is die mevrou) for making my Dreams come true. Babba ek lewe in my droom. Die trane loop toe ek terugdink aan die dag toe die visgraat in haar keel vassit. Ek neem haar Hospitaal toe en die antie by ontvangs help haar om die vorm in te vul, by die vraag: "Next of kin" vra sy wat is dit. Die antie by die toonbank sê "your family", sy wys na my en sê "this is my father", die antie sê verbaas " hy is wit" waarop Doppie dood normaal sê "my Mother is also white".
Adios Doppie, en in die agtergrond sing Richard van der Westhuizen "lewe jou lewe, my engeltjiekind".



Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 5 Mei 2026. Lees dit op Facebook.
Briewe aan die redakteur
Wat lesers op Facebook gesê het
This brought tears to my eyes! Congratulations on your amazing achievements. Your "family" (Babba & Mevrou) are the most AMAZING couple. They have helped sooo many young people realise their dreams (and do so without any fanfare or advertising). May God bless Marius and Christel abundantly for what they have done so unselfishly🙏🙏💐
DaveandViv Senekal Amen!
Daar is 57 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.