Uitgawe van Woensdag 15 April 2026Parow

Die Stofpadkoerant

Woensdag 15 April 2026Terug na die voorblad

Dixie se Ais-Ais storie

Deur Marius, net MariusBar-B-Que Steakhouse Parow

Die volgende Ais-Ais storie is so ses jaar gelede deur Dixie MacDonald geskryf.(Oom Pieter en tannie Breggie Dixon se dogter) Dit is wel destyds op ons blad geplaas, maar relatief min mense het dit gelees.Geniet hom!

Ons tyd op skool (1967 -1978) was daar nie vreeslik baie geleenthede om te toer of ander besienswaardighede te besoek nie. Voordat ek (Dixie)hoërskool toe is, was daar darem van tyd tot tyd uitstappies na die Burgerstrandhuis, maar buiten vir rugby en netbal uitstappies na so ver as Garies en Springbok het ons nie veel plekke gesien vanuit 'n skool se oogpunt nie. Ons was dus so gelukkig om vir 'n CSV kamp na Ais-Ais te kon gaan, en wat 'n ondervinding!

Onder leiding van Mnr. Linden Basson het die uitstappie begin. Ons was skaars ingeburger in ons tente of daar kom 'n groot bus van Keetmanshoop ingetrek. Ek wens julle kon die seuns se gesigte sien toe hul besef dit is net 'n groep meisies!! Het agterna uitgevind dit was 'n "vlegsel peleton" wat 'n eerste prys gewen het vir dril.

'n Mens kan baie dinge van Marius Strauss sê, maar dat hy bang was om meisies "op te chat" kan geen mens van hom sê nie. Ons manne het met leep-oë na die meisies gestaar en Marius is "gedare" om kennis te gaan maak. Die bus het nog nie eens behoorlik tot stilstand gekom nie, en ou Maja lê al klaar onder die bus, en maak so lê-lê kennis met die meisies soos hulle uit die bus klim. Hy raak toe ook heel handig met die afpak van die bagasie en nadat die meisies ingeburger is, ken Marius al die helfte van hulle by die naam en kom terug om darem terugvoer te gee van die ondervinding. Ons manne hang aan ou Maja se lippe en elkeen het toe al 'n oog op 'n "girl" wat hulle so in die verte gesien het. Marius word weer opgesteek om hul nader te lok swembad se kant toe. Die manne wou darem sien watse verborge talente die meisies onder hulle sweetpakke het!

Nie lank nie en Marius kom hand om die lyf met die meeste meisies daar aan. Nou is die meisies by die swembad, maar moet darem ook sê in daardie jare was die ouens nou nie vreeslik voorbarig nie en hulle luier maar rond in die swembad met skaam loere so tussen die swemmery deur. Intussen wil hul vreeslik graag nader kennis maak en een van die manne maak die voorstel dat hul aftrekperdjie moet speel in die swembad. Dit was nou iets om te aanskou soos hulle spook en spartel om by die mooiste meisies uit te kom en hulle op die nek te kry!

Dis dan nou ook hier waar die "sports" begin het. Ou Maja was 'n bietjie te stadig en die enigste meisie wat oorgebly het was 'n taamlike gesette meisie. Maja het so drie of vier keer probeer om die meisie op sy nek te kry. Met Maja se lengte was hy heel uit die water uit (die swembad is nie vreeslik diep nie) en arme Maja het daardie hele gewig op sy skouers en is natuurlik die maklikste teiken omdat almal kon sien dat hy wil breek onder daardie aanslag. Ons toeskouers het onsself geskeur ten aanskoue van die hele petalje.

Sal nooit vergeet dat ou Maja die Maandag terug by die skool heel gehawend en moeg gelyk het nie. Hy het een of ander spasma in sy nek gehad en moes dwars in die skoolbank sit om te sien wat voor in die klas aangaan. Aardrykskunde periode merk Mnr. Hartman Maja se skeefsittery op en vra: "Strauss, wat makeer jy?" Waarop Marius heel droog antwoord: "Nee Meneer, dis 'n paar "gums" wat my in die nek gebyt het!" Nodeloos om te sê is dat almal van ons wat saam by Ais-Ais was nie dié prentjie uit ons gedagtes kon uitkry wat regtig met die arme man se nek gebeur het nie en in 'n skaterlag uitgebars het!!!

Danie Dassie (van Wyk, oom Klein Topper se seun) se kommentaar destyds: Dixie, ek onthou dit asof dit gister was. Mnr. Linden Basson het ons later die aand by die swembad kom haal vir stiltetyd.Dis toe dat ek, Marius en Heinrich tussen die Keetmanshoop meisies in die swembad weggekruip het. So het ons mos toe maar voortgegaan met die "aftrekperd" speletjie .Die meisie op my nek (die ruiter) se naam was Koenas. Ek onthou Marius se ruiter het redelik gewig gedra en elke slag as sy ruiter weer moet opklim het ek en Heinrich ons nettie dood gelag nie, want dit het gelyk soos `n Giraffe wat sukkel om op te staan Dit was dan ook as gevolg van die lag uitbarstings wat Linden ons gehoor het en ons toe uit die swembad kom haal het en ons in die kleedkamer met `n nat handdoek gemoer het. Lekker onvergeetlike tye,

Eerste keer geplaas op die Bar-B-Que Steakhouse Parow se Facebook-blad, 15 April 2026. Lees dit op Facebook.

Briewe aan die redakteur

Wat lesers op Facebook gesê het

Wonderlike vir altyd onthou oomblikke.🏆

Alma V.

Daar is 3 opmerkings by hierdie storie op Facebook. Lees almal daar.